Sjoe, die laaste keer wat ek so gevoel het, was die dag toe ek by my eerste werk ingestap het. Nie 'n idee wat op jou wag en of dit vir jou gaan werk nie....
Ek het met 'n knop on my keel elke dag gewag vir die honde om in te kom. Daar was so 'n groot verskeidenheid honde geboek, van 'n great dane(Storm) tot 'n worsie(Shiela) dat ek gewonder het of dit 'n goeie idee was.
Die kennels was van muur tot muur vol van die 24ste Desember af. Ek het tot twee golden retievers by my in die huis gehad, maar een baie goeie ding was die dat my ouers van die Transvaal af ook by ons kom kuier het. Ek het my liefde vir diere by my ma geleer en ek het geweet sy sal my mooi kan help.
Ek, my ma Marlene, huis bediende Denise en tuin vrou Moekie het die ding mooi laat werk. Ons het woep wap mekaar gevind en geweet wie moet wat doen om nie oor mekaar se voete te val nie. Van kos gee, waterbakke volmaak tot elke hok wat uitgewas moet word het dit als seep glad verloop.
Ons het die honde gavat om te gaan swem, stap en meer. Dis heerlik om met 'n klomp honde te werk wat 'n mens besef baie werd is vir hom/haar eienaar. Ek wonder of die honde weet dat hulle eintlik 'n ongelooflike lekker lewe het en dat daar honde is wat nie eers kos of water het nie?!
Desember tot Januarie het sonder enige probleme afgeloop. Drie kwart van die honde is Januarie vetter huis toe en seker daarvan dat hulle nie sal omgee om weer hier te kan bly nie.